Articles
Headline News
20 July 2018

Thabazimbi – Ja... Jy het reg gelees! R 5,000.00 in harde note. Dis die eerste prys by die jaarlikse geluid-namaak kompetisie by die Apiesdoring Karnaval. ‘n Verdere R 3,000.00 en R 2,000.00 is opsy gesit vir die tweede en derde plek, trots geborg deur Northam Toyota.


Dis ‘n eg Afrika geluid wat vanjaar nageboots word. Die roep van ‘n visarend wat op ‘n dooie boom by water sit, laat jou mos besef jy is iewers in die bosveld. En dis hierdie baie spesiale geluid wat deelnemers moet namaak.

Vorige wenners van die kompetisie sal ook geleentheid hê om hul slag te wys met geluide soos die donkie, leeu, jakkals, kalkoen en ‘n Lister ‘engine’.


Die karnaval is bekend vir sy boere kultuur. Pap en kaiings, pap en wildslewer, pap en lewerwors, kerrie skaapafval, melkkos, roosterkoeke, nat beskuit, potbrood, bakoond brood en tonne biltong! Dis net so paar lekkernye wat op besoekers wag.

Die honderde konfyte, blatjang en ingelegde vrugte en vars groente en vrugte van Vera se plaasstal is net so gewild. Vir jou gerief is daar trekkertjies met waentjies om jou aankope aan te ry na jou kar toe.
Vir menige besoeker is die tonne vleis hul jaarlikse grootste geleentheid om die vrieskas vol te kry. Van vroeg af – so vroeg soos 06h00 al! – sit vleiskopers al in rye op kampstoele.

Dis juis ter wille van hulle wat Jan en Eveline al boeretroos verkoop van 06h00 af. Vir verdere gerief word besoekers se vleispakke met nommers en name veilig koel gehou in die koeltrok tot huistoe-gaan-tyd.


Theuns Jordaan is die hoof gaskunstenaar vanjaar en hy het belowe om stiptelik 15h00 karnavalgangers met sy gewilde rasperstem te vermaak.  


Al die inligting van hierdie Thabazimbi bosveld gebeurtenis is te sien by www.apiesdoringkarnaval.co.za. 


Die karnaval vind plaas DV Saterdag 4 Augustus van 07h30 af by die Hervormde Kerk net  buite die dorp. Toegang is gratis. 


Vir navrae kontak die voorsitter, Izak Joubert, by 083-488 6357 of Hennie van der Linde by 083-507 0335. 

Theuns Jordaan 

 

Share this article with a friend...