Articles
Headline News
23 February 2018

Vyftig jaar gelede het sjokolade en melkskommels anders geproe. Vyftig jaar gelede was dit die heel eerste keer in geskiedenis dat mense om die maan gewentel het, deel van die Apollo 8 span. Baie dinge het gebeur die afgelope 50 jaar – maar baie dinge het bly staan. 

50 jaar terug In 1968 maak Piet Fourie sy besigheid, Springbok Haarkapper, oop in Rustenburg. In doerie tyd was Rustenburg maar nog ‘n klein dorpie met ‘n inry – en snelweë was net bedoel vir stadsmense. 

Fourie kom oorspronklik van Allenridge naby Welkom in die Vrystaat, waar hy leer hare sny het by sy Pa. Daardie dae het die manne dit kwansuis vanuit hul huis op Allenridge se buitekamer gedoen. 
Ná skool en Saterdae het Piet sy Pa in die salon bygestaan en sommer al van kindsbeen af die kuns aangeleer en vervolmaak. 

Kort voor lank, nadat hy sy matriek voltooi het is Piet onderweg na Welkom om by oom Japie van Alma Haarkappers te werk. Híér het Piet sy 4-jaar vakleerlingskap voltooi. In dáárdie dae moes ‘n gekwalifiseerde barber ten minste 60 koppe per dag stylvol kon kap vóórdat die kon aansoek doen vir werk. ‘n Vakmanskap wat vir Piet as tweede natuur gekom het. 

Nadat Piet sy ambag voltooi het, besluit hy om die wêreld te verken en loseer by sy neef Dirk Fourie in Rustenburg. Hier wou hy graag sy eie salon begin. 

Al in sy eerste maand huur hy ‘n perseel in die Vos en Seuns gebou in die destydse Van Staden straat en doen Piet aansoek om Springbok Haarkapper te begin. Op 21-jarige ouderdom in 1968 het die jong lat sy droom uiteindelik bewaarheid. 
Die eerste drie maande was maar taai... Soveel só dat Piet amper oorweeg het om maar deure toe te trek. Maar hy het vasgebyt en deurgedruk.

‘n Jaar later besluit Piet dat hy sy perseel wil skuif, en is later oor na Steen straat 35, waar hy vir 33 jaar lank die salon bedryf. Dit is híér waar die besigheid diep wortels geskied het. Piet se klante was soos familie. 

In 2002 verskuif Piet sy besigheid na Beyers Naude rylaan 254 en in 2007 word nóg ‘n droom van Piet bewaarheid toe sy dogter, Madeleine, by die besigheid aansluit. Vir vyf jaar lank het die tweetjies rug aan rug etlike duisende koppe sê hare gekap. 

In 2012 tree Piet af en gaan bly op die plaas Groot Geluk tussen Coligny en Ottosdal by sy oudste dogter. Piet is te ruste gelê op 30 Desember 2016. 

Vandag word Piet se geaardheid en staaltjies gemis. Die wat oud-inwoners van die stad is sal weet dat Piet diep spore hier getrap het. 

Vandag bestuur sy dogter Madeleine Reader Springbok Haarkapper, trots om haar Pa se skoene vol te staan. 

In ‘n onderhoud met die Platinum Weekly koerant vertel Madeleine dat sy haar Pa mis. “Ek mis sy teenwoordigheid, sy grappies en sy warm geaardheid. Ons deel die liefde om mense se hare te kap,” sê Madeleine. 

“Ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om al ons kliënte hartlik te bedank vir hul getroue ondersteuning!” sê Madeleine. Daar is selfs al 4de generasie kliënte by die haarkapper.


Madeleine vertel nostalgies: 

“Nog voor ek op skool was het ek saam met my Pa werk toe gegaan op Saterdae. 

“My pa het die swart stoel in die salon agteroor laat lê en vir my ‘n kussing en kombersie neergesit – my eie bedjie langs sy sny-stoel. Min het ons geweet dat ek 30 jaar later saam met my Pa sou werk. Ek het by die beste geleer! Dit was vir my ‘n voorreg om saam met my Pa te kon werk. 

“Sonder  my Pa se toewyding en harde werk elke dag sou ek nie vandag die voorreg gehad het om  hierdie brokkie geskiedenis met Rustenburg se inwoners te kon deel nie.

“Aan elke kliënt wat Springbok Haarkapper ondersteun het gedurende hierdie 50 jaar wil ek ook ‘n besonderse woord van dank uitspreek. Sonder julle  ondersteuning sou Springbok Haarkapper beslis nie die mylpaal behaal het nie.

“In dankbaarheid en met opgewondenheid sien ons uit vir die jare wat voorlê.”

Salon Ure:

07h00-17h00
Maandae tot Vrydae

07h00-13h00
Saterdae

Geen afspraak nodig!!! 

“We do it the old way with a modern twist, professional service for gentlemen!”
Hier kry Marnus Otto ‘n knap kap by Christelle Clarke, haarkapster by Springbok Haarkapper.
Van links: Madeleine Reader, eienaar; en Christelle Clarke, haarkapster.
‘n Koerantuitknipsel van 1977.
Vyftig jaar gelede het ‘n besigheidsman van die stad ‘n droom gehad. Vandag is die lugkasteel steeds ‘n waarheid en die welbekende Springbok Haarkapper nog sterk aan die gang.

 

 

 

 

 


 

Share this article with a friend...