Articles
Social & Community News
29 June 2018

Brits/ Magaliesburg – “Daar is ’n tekort aan jong mense wat by landbou betrokke wil raak. Daar gaan altyd sosio-ekonomiese kwessies en struikelblokke wees, maar die toekoms van landbou lê in die jeug se hande.

Om genoeg (en goed-genoeg) te boer sodat die voedselmandjie vol bly vereis dat daar deurlopend nuwe bloed en energie tot die mark moet toetree. Obaro beskou dit as ons moreel-etiese verantwoordelikheid om ‘n beter toekoms vir die jeug te verseker,” sê Nic Bronkhorst, besturende direkteur van Obaro.

As deel van Obaro se verbintenis tot die jeug en die toekoms van landbou, bied Obaro verskeie opleidingsgeleenthede om die jeug met kennis en ervaring toe te rus. Obaro bied jaarliks die Obaro landbouskole internskap en die Obaro leerlingbestuurderprogram aan.

Obaro is ook verlede jaar deur die Instituut van Interne Ouditeure Suid-Afrika (IIA SA) as 'n werkplekopleidingsverskaffer geakkrediteer. Obaro kan toekomstige interne ouditeure die geleentheid bied om opleiding in die beroep te ontvang en ? NKR 7 en NKR 8 kwalifikasies te voltooi.

Die Obaro landbouskole internskap bied leerders van die Brits- en Magaliesburg-omgewing die geleentheid om tydens skoolvakansies by Obaro in te skakel. Die Obaro internskap bied skoliere blootstelling aan alle fasette van ‘n kleinhandel landboumaatskappy, insluitend hoe die dag-tot-dag operasionele take verrig word. Leerders kry ondervinding in meganisasie, versekering, finansiering, bemarking, besproeiingsontwerp, landbounavorsing en veeproduksie.

Die Obaro leerlingbestuurderprogram bied kandidate wat die program suksesvol voltooi ‘n kwalifikasie (NKR 5) in algemene bestuur. Die program gaan elke jaar van krag tot krag en bied gegradueerdes die geleentheid om hul kennis en vaardighede te verbeter.

Die Obaro leerlingbestuurderprogram bied waardevolle kennis in die landboubedryf, verseker werksondervinding, bied ‘n voorsprong in die arbeidsmark, asook praktiese toepassing van klaskamer-kennis en verhoog selfvertroue in die werksomgewing.

Dit is die sewende jaar wat Obaro die leerlingbestuurderprogram aanbied met ‘n beduiende gedeelte van Obaro se bestuurskomponent wat vanuit hierdie program ontwikkel is.

“As daar nie vandag geploeg en geplant word nie, sal daar nie môre geëet kan word nie. Ons weet dat die jeug die toekoms is, daarom doen ons ons deel om hulle tot die beste van ons vermoë toe te rus,” sê Nic Bronkhorst, besturende direkteur van Obaro.

Obaro-personeel wat die 2017 leerlingbestuurderprogram suksesvol voltooi het, tydens die onlangse prysuitdeling. Van links: Johan Labuschagne, Madelein Oosthuizen, Ayesha Valley, Elsie Mashiloane, Willem Opperman, Daniel Bouwer en Jason du Preez.

 

Share this article with a friend...