Articles
Social & Community News
22 June 2018

Rustenburg – Huis Netanya is ‘n tuiste geoormerk vir mense in nood maar is tans onbewoonbaar. Oor die laaste paar jaar was die gebou so verwaarloos en so verniel dat dit tans net kan dien as ‘n slaapplek vir die haweloses.

Huis Netanya (betekenis: geskenk van God) se herstel en herlewing is die visie van een vrywilliger, Nelana Rossouw.

Nelana het 10 maande gelede by ‘n Angus Buchan geleentheid besluit om haar welsynswerk en bediening in die gemeenskap in te stort, deur díe enorme projek aan te pak.

Die gebou is vervalle en sedert die krane en koper pype uitgesteel is, is die gebou ook sonder water. Die vorige bewoners het nie net amper elke deur en kas uitgebreek nie, maar ook ‘n agterstallige elektrisiteitsrekening gelos wat meeste van ons se oë sal laat rek! Gelukkig is Nelana nie meeste van ons nie. Sý sien hierdie as ‘n roeping en ‘n gulde geleentheid om die minderbevoorregtes te help.

In die Bybel leer ons van die barmhartige Samaritaan (Lukas 10:25-37) wat die aangerande man wat gelaat is vir die dood, help en na ‘n herberg neem dat hy kan rus en herstel. Die Samaritaan het self die kostes gedra.

Dit is Nelana se hoop dat die gebou eendag kan dien as ‘n herberg en ‘n plek waar minderbevoorregtes kan rus terwyl hulle geliefdes in die nabye geleë Peglerae en die staatshospitaal herstel. Die tuin is groot genoeg om ‘n groentetuin uiteen te sit wat die bewoners dan kan versorg en so self oefening en sonlig inkry terwyl hulle ook hul eie kos genereer.

Maar sy kan dit nie alleen doen nie...

Huis Netanya het ons hulp nodig. Of dit nou ‘n ou deur, ‘n bed of ‘n splinternuwe kombuis kas is, alle bydraes is welkom. Indien jy wil kom help tuinmaak of skouer aan die wiel sit, is jy meer as welkom!

Kom help gerus om Huis Netanya ‘n herberg te maak en sodoende kan jy óók ‘n barmhartige Samaritaan wees! Kontak haar gerus by 076 652 2949 of 074 529 6646.

‘n Verwaarloosde en verlate kombuis.
Toe huis Netanya leeg gestaan het, het skelms selfs die krane uit die badkamers gestel, gevolglik is daar nie op hierdie stadium enige lopende water nie.

 

Share this article with a friend...