Articles
Social & Community News
28 February 2018

Na aanleiding van die Wêreldgesondheids-organisasie se verslag dat daar wêreldwyd sowat 50 miljoen mense is wat demensie het, en bykans 10 miljoen nuwe gevalle elke jaar voorkom, meen baie gesondheidsowerhede dat gevalle van demensie regoor die wêreld besig is om toe te neem.

“Die groeiende ouer bevolking – ‘n groep wat statisties meer vatbaar is vir demensie – beteken dat die wêreldwye las van hierdie toestand al hoe groter word. Hier in Suid-Afrika het ons ‘n soortgelyke situasie,” sê Ivan Oosthuizen, uitvoerende hoof van die Livewell Groep, ‘n organisasie wat in demensiesorg spesialiseer.


Oosthuizen sê die diagnostiese hulpmiddels vir die diagnose van demensie — ‘n sindroom wat ongeneeslik is en progressief die geheue en kognitiewe funksie aantas — het in die laaste jare beduidend verbeter. 

“Dit het ongetwyfeld tot gevolg dat meer gevalle vandag gediagnoseer word, en dat vroeë demensie – voor ouderdom 65 – by meer jonger persone geïdentifiseer word. Trouens, die Livewell Groep het die afgelope paar jaar ook ’n groter getal navrae gekry van pasiënte met vroeë demensie wat hulp verlang,” sê hy.


Progressiewe toestand
Oosthuizen verduidelik dat demensie op talle verskillende maniere manifesteer en verskeie oorsake het. Ongeveer 60% tot 70% van gevalle hou verband met Alzheimer se siekte. Voorts verskil die tempo van ontwikkeling van die toestand van persoon tot persoon. 


“Demensie bly egter ’n onbehandelbare en onomkeerbare progressiewe toestand. Dit beteken dit raak al hoe moeiliker om dit te bestuur – veral vir gesinne in die huisomgewing. Vir baie gesinslede raak die uitdaging al hoe groter en meer stresvol om die nodige sorg te verskaf wat tuis nodig is om hul geliefde te beskerm en so lank as moontlik betrokke te hou in die huishouding,” sê hy.


Vooruitbeplanning
Volgens Oosthuizen kan demensie baie swaar wees vir gesinne, en wanneer ’n geliefde vir die eerste keer gediagnoseer word, is dit nie altyd maklik om te voorsien watter kognitiewe en fisieke veranderings in later jare met die toestand gepaard sal gaan nie. 

“Daarom vind die meeste persone by wie vroeë demensie gediagnoseer word, dat dit help om saam met hul gesinne vooruit te beplan om die impak wat die toestand vorentoe op al die betrokkenes sal hê, tot die minimum te beperk,” sê hy.

“Hoewel die diagnose van demensie moontlik geassosieer word met ’n beperking van die persoon se vermoë om self keuses te maak, kan ’n proaktiewe en ingeligte benadering terwyl hulle dit wel nog kan doen, geweldig baie vir daardie persoon beteken.”


Oosthuizen sê vroeë beplanning stel die persoon met demensie in staat om duidelik sy of haar wense ten opsigte van toekomstige sorg uit te spreek en betyds die nodige regs-, finansiële en ander besluite te neem voordat die toestand ver vorder. 


Oosthuizen beveel aan dat persone by wie demensie gediagnoseer is, aan die volgende aspekte aandag gee wanneer hulle vooruit beplan: gesondheid en langtermynsorg, regsaspekte en geldsake en eiendom. 


Ondersteuningsgroepe
“Livewell hou gratis maandelikse ondersteuningsgroepsessies waar mense by ons spanne advies en hulp kan kry met hul beplanning, en ook ondersteuning kan kry van ander wat soortgelyke uitdagings die hoof moet bied,” beklemtoon Oosthuizen. 


“Demensie is ’n groot oorsaak van ongeskiktheid en afhanklikheid onder ouer mense in Suid-Afrika en het ’n groot impak – nie net op die persoon en die gesin nie, maar ook op die breë gemeenskap en die ekonomie,” sê Oosthuizen. 

Uitgereik deur Martina Nicholson Associates (MNA) namens Livewell, Februarie 2018

Share this article with a friend...