BLIKKIES VOL LIEFDE
ten bate van Rustenburg Kindersorg
Rustenburg – Die Rustenburg Kinderhuis by die Rots Kerk kan sowat 100 kinders akkommodeer, maar voordat díe doelwit daargestel kan word, is daar nog baie klowe om te kruis. Die span van Rustenburg Kindersorg is sterk skouer aan die wiel met verskeie projekte wat geloods word, maar kan die taak nie alleen behartig nie.
Daarom het Roxy van den Berg, president van die Kindersorg Vrywilligers Klub (KVK), díe klub daargestel om hart en siel in te spring om beide die Rustenburg Kinderhuis en die Rustenburg Kindersorg by te staan.
“Ons is opreg dankbaar teenoor Tersia Theunissen, eienaar van Blikkies Vol Liefde, en al haar personeel, wat besluit het om hul kunsuitstalling te vergroot dat ‘n vlooimark ook aan die orde van die dag sal wees. Die vlooimark se opbrengste sal as fondsinsamelingsprojek vir die Kinderhuis van stapel gestuur word,” sê Roxy in ‘n onderhoud met die Platinum Weekly koerant.
Die vlooimark en kunsuitstalling gehou op Saterdag, 18 November, was ‘n reuse sukses.
Een van die ondersteuners van die dag het ‘n teddiebeer geskenk en om díe teddie te wen, moes jy R10 betaal. ‘n Trekking is gedoen en die gelukkige wenner was Leoni van Wyk.
“Ons is werklik dankbaar vir almal se ondersteuning. Ons het pragtige mense ontmoet en lekker gesels – en die bekende gesigte was net so lekker om weer te sien. Dankie almal!” sê Dr Grant.
© 2017 - All Rights with Platinum Weekly