Articles
Sport & School News
20 July 2018

En so het die laaste groepwedstryde plaasgevind in die Superreeks en nou word die seuns van die ooms geskei, aldus die kenners langs die braaivleis vure ou grote! Sommige spanne het vir die trots gespeel terwyl ander nog moes veg vir 'n plek onder die laaste agt. Die oorheersing van Kiwi ruggas kan duidelik gesien word met vier NZ spanne wat die laaste agt gehaal het.

 

Reds vs Sunwolwes

Die Reds klop die Japannese Wolwe in hul laaste game van 2018 met 48-27 in Brisbane. Die Reds eindig 13de met ses oorwinnings, en die Wolwe het darem drie games kon wen die seisoen en verower die gesogte houtlepel om dan laaste te eindig op die puntetabel.

 

Chiefs vs Hurricanes

In 'n riller klop die Chiefs die Canes in Hamilton 28-24 om sodoende derde op die NZ Konferensie te eindig en vyfde algeheel op die puntetabel. Die Chiefs speel nou ongelukkig weer teen die Canes in een kwarteindstryd in Wellington. Die Canes eindig tweede op die NZ Konferensie en vierde algeheel.

 

Highlanders vs Rebels

Die Highlanders sonder Ben en Aaron Smith moes hard werk in Dunedin vir hul oorwinning van 43-37 oor die Rebels wat tweede eindig op die Aussie konferensie ou grote. Die Rebels eindig negende op die puntetabel met die Highlanders wat vierde in die NZ Konferensie eindig en sesde algeheel en ook dan kwalifiseer vir 'n kwarteindstryd en gaan teen die Waratahs in Sydney uitdraf.

 

Crusaders vs Blues

Die Crusaders klop die Blues in Christchurch 54-17 in hul laaste groepwedstryd en lyk beslis nie lus om hulle titel af te staan nie ou grote. Die Saders eindig dan heel bo in die NZ konferensie en natuurlik tops op die algehele puntetabel met 63 punte. Die Leeus is tweede met 46 punte. Die Saders wen veertien van hulle sestien games met die Blues wat slegs vier uit sestien kon wen. Die Crusaders draf dan in een kwarteindstryd teen die Haaie in Christchurch uit.

 

Waratahs vs Brumbies

In 'n klipharde Aussie derby verras die Brumbies en klop die Tahs 40-21 in Sydney voor hulle tuisskare in hul laaste game van die seisoen. Die Waratahs eindig egter nog steeds eerste op die Aussie konferensie en derde op die algehele puntetabel. Die Brumbies eindig derde op die Aussie konferensie en tiende op die puntetabel. Die Tahs speel dan in een kwarteindstryd teen die Highlanders in Sydney.

 

Leeus vs Bulle

Die Bulle se droewige seisoen kom tot 'n einde met 'n groot pakslae deur die Leeus in Jo'burg ou grote. Die Bulle het vroeg voorgeloop met 12-0 en dit het gelyk of daar dalk 'n skokkie of twee kan kom maar watwou... Die Bulle val in die laaste uur van die game heeltemal uit die bus uit en sluit hul seisoen af met 'n allemintige 38-12 pakslae.

Die Leeus eindig dan eerste in SA konferensie en tweede op die algehele puntetabel. Hulle wen nege uit sestien games en eindig op 43 punte. Hulle kom nou teen die Jaguares op Ellispark te staan in 'n kwartfinaal. Die Bulle eindig laaste op die SA konferensie en twaalfde algeheel.

 

Haaie vs Jaguares

Soms speel geluk 'n groot rol in enige kompetisie en die Haaie is die gelukkige wenner van hierdie pakkie in die 2018 Superreeks. Die neerlaag van die Rebels teen die Highlanders en hulle oorwinning van 20-10 in Durban teen 'n erg verswakte Jagueres span, het aan die Sharks 'n plek in die kwartfinale besorg.

Die Haaie eindig derde op die SA konferensie en agste op die algehele puntetabel met 36 punte. Die Haaie wen sewe van hulle sestien games met die Jaguares wat tweede op die SA konferensie en sewende algeheel eindig met 38 punte en wen nege van hulle sestien games.

Die Haaie het amper 'n onmoontlike taak om die Crusaders in Christchurch te gaan aandurf in een kwartfinaal met die Jaguares wat teen die Leeus in 'n ander kwartfinaal moet gaan uitdraf.

 

Kom ons hoop rugby seëvier en mag die finale beslissings regverdig geskied en die spanne wat dit verdien deurdring na die semifinale!

 

Nag ou grote...

Share this article with a friend...