Articles
Sport & School News
25 May 2018

Jaguares vs Bulle
In Buenos Aires verneder die Jaguares die Bulle en behaal ‘n geskiedkundige oorwinning van 54-24 oor die Pretorianers. Die Argentyne behaal dan hulle vyfde agtereenvolgende oorwinning met hierdie puik sege. Die Jaguares speel volgende teen die Haaie in Buenos Aires wat beloof om ‘n bulstryd te wees. Die Bulle gaan tuis teen die Brumbies opdraf. 

 

Leeus vs Brumbies
In Jo’burg klop die Leeus die Brumbies 42-24 maar maklik was dit nie ou grote. Eers láát in die tweede helfte kon die tuisspan die oorhand kry nadat die ‘n rooi kaart aan die Brumbies die taak vir hulle vergemaklik het. Die Leeus speel volgende teen die Stormers op Nuweland met die Brumbies wat Loftus toe reis om teen die Bulle uit te draf. 

 

 Waratahs vs Highlanders
In die eerste keer in baie jare slaag die Tahs daarin om ‘n Kiwi span te klop en wen welverdiend 41-12. Die Tahs is ook dan die voorloper op die Aussie Konferensie. Die Higlanders speel volgende teen die Reds in Brisbane en die Tahs moet Hamilton toe reis om teen die Chiefs uit te draf.

 

Blues vs Crusaders
Die Saders klop die Blues 32-24 in Auckland en behou daardeur die top posisie in die NZ konferensie. Die Saders draf volgende teen die Hurricanes in Christchurch uit. Die Blues verdien ‘n loslootjie.

 

 

Hurricanes vs Reds
In Wellington veroorsaak die Reds amper ‘n aardskudding ou grote! Die Canes het ‘n harde dag op kantoor gehad en wen naelskraap 38-34. Die Canes speel volgende teen die Crusaders en dit beloof om ‘n riller te wees. Die Reds draf tuis in Brisbane teen die Highlanders uit.

 

 

Haaie vs Chiefs
Die Haaie slaag daarin om ‘n verswakte Chief span 28-24 te klop in Durban. Die Haaie speel volgende teen die omgekrapte Jaguares in Buenos Aires. Die Chiefs gaan tuis in Hamilton teen die Waratahs uitdraf.

 

 

Sunwolves vs Stormers
En daar val nog ‘n grote in Japan... Die Wolwe verras vriend en vyand en klop die Stormers 26-23. Baie water is gespaar in die Kaap deur die gebruik van duisende Kapenaars wat toe maar ‘n wyntjie moes neem vir die groot skok! Die Stormers speel volgende teen die Leeus in Kaapstad met die Wolwe wat Melbourne toe reis om teen Rebels uit te draf.

Share this article with a friend...