Articles
Sport & School News
11 May 2018

Chiefs vs Jaguares
In een van die grootste verrassings van Super Ruggas klop die Jaguares die Chiefs in Hamilton met 23-19, om sodoende hul toer daar onder onoorwonne af te sluit ou grote. Met die Argentyne aan die wenkant neem hulle nou die tweede plek op die SA konferensie in.
Die Chiefs kan weer ‘n bloutjie loop met hulle volgende game teen die Stormers in Kaapstad. Die Jaguares het ‘n welverdiende loslootjie

 

Rebels vs Crusaders
In Melbourne speel die Saders goeie ruggas en klop gemaklik die Rebelle 55-10. Die Crusaders is tans in die eerste plek in die NZ konferensie met die Canes net twee punte agter hulle met een game minder.
Die Saders speel volgende teen die Waratahs in Christchurch met die Rebels wat in ‘n Aussie derby teen die Brumbies in Canberra gaan uitdraf.

 

Hurricanes vs Leeus
Die Leeus het hard probeer maar dit was nie goed genoeg nie en verloor 28-19 teen die Canes. Die besering aan yster Marx vroeg in die eerste helfte was duidelik ‘n geweldige terugslag vir die Jo’bugers. Die Leeus draf volgende teen die Highlanders in Dunedin uit. Die Hurricanes speel teen die Blues in Auckland.

 

Waratahs vs Blues
Die Blues staan uit die as op en klop die Tahs in Sydney 24-12 in ‘n klipharde game. Die Tahs is tans die voorloper in die Aussie konferensie wat volgende teen die Crusaders in Christchurch gaan uitdraf. Die Blues speel tuis teen die Hurricanes.

 

Stormers vs Bulls
In Kaapstad word daar nou ‘n wynproetjie gedoen, die nood aan water is vergete... die Kaap is weer Hollands want die tuisspan klop die Bulle 29-17. Die Stormers het die Bulle voorlangs karnuffel en die Springbok Peter-Steph was die groot doring in die vlees van die Bulle.
Die Bulle speel volgende op Fort Loftus teen die Haaie wat beloof om ‘n riller te wees. Net onlangs het die Bulle die Haaie in die Haaitenk verneder maar eerskomende Saterdag gaan dit ‘n walvis van ‘n ander grootte wees. Die Stormers draf volgende teen die gekweste Chiefs op Nuweland uit.

 

Haaie vs Highlanders
Die Durbaniete het vriend en vyand verras deur die hoogaangeskrewe Highlander span met oortuiging 38-12 te klop. Dit was ‘n puik gebalanseerde vertoning deur voor- en agterspelers wat skitter ruggas opgedis het. So terloops, die eerste drie deur rakker Akker was slegs na 46 sekondes!
Die Haaie reis Pretoria toe om teen die gewonde Bulle uit te draf met die Highlanders wat tuis teen die Leeus gaan opdraf in Dunedin.

 

Share this article with a friend...