Articles
Sport & School News
20 April 2018

Vodacom Superruggas 2018

Hurricanes vs Chiefs
In Wellington moes die Canes hard werk om met 25-13 as wenner uit die stryd te tree ou grote. Die verskil tussen die twee Kiwi spanne was die briljante spel van die All Black losskakel Beauden Barrett. Hierdie begaafde speler is die spil waarom die Canes se spel draai. 
Die Canes het volgende ‘n loslootjie met die Chiefs wat Brisbane toe reis om teen die Reds uit te draf.
 

Sunwolves vs Blues
Die Japannese Wolwe is nog steeds segeloos en verloor in Tokio 24-10 teen die Blues. Die Wolwe speel veel beter as verlede jaar ou grote, maar kan nog nie regtig saam met die groot honne blaf nie.
Die Japanners reis volgende Christchurch toe om teen die Crusaders te gaan speel en die Blues pak die Highlanders tuis in Auckland.
 

Rebels vs Jaguares
In Melbourne verras die Argentyne en klop die Rebelle 25-22 en behaal sodoende hulle eerste sege in Aussie land en ook die derde wen vanjaar. Met hierdie verloor het die Rebles nou afgeskuif in die tweede plek op die Aussie konferensie.
Die Jaguares reis Canberra toe om teen die Brumbies uit te draf in hulle volgende game met die Rebels wat SA toe reis om teen die Bulle op Fort Loftus te speel

Highlanders vs Brumbies
Die Highlanders druk ses keer en speel kookwater ruggas in Dunedin om met 43-17 te wen teen die Brumbies. Die Brumbies was met rustyd slegs 10-12 agter maar is oordonder in die tweede helfte deur die Kiwi’s ou grote.
Die Highlanders speel volgende teen die Blues in Auckland met die Brumbies wat tuis in Canberra teen die Jaguares uitdraf.

Waratahs vs Reds 
Die Waratahs speel goeie ruggas en klop die Reds in Sydney 37-16 om die boonste plek in die Aussie konferensie in te neem.
Die Tahs speel volgende in Sydney teen die Leeus met die Reds wat tuis in Brisbane teen die Chiefs gaan uitdraf.

Haaie vs Bulle
In die Haaitenk verwoes die Bulle die Haaie en wen 40-10. Baie kenners het voorspel dat die geveg baie gelykop gaan wees maar John Mitchell se troepe het ander planne gehad. Die Bulle het die Haaie pap geskrum en Handrè Pollard het op losskakel puik spel gelewer. Die ster van die dag was egter die galante jong heer Warrick Gelant wat drie keer die Haaie se doellyn oorsteek het. Hierdie jongman het ‘n skitterende game op heelagter gehad ou grote. 
Die Haaie speel volgende teen die Stormers in Durban met die Bulle wat gasheer speel vir die Rebels in Pretoria.

En net so terloops prof, die Maties is die 2018 Varsity kampioene.

Nag ou grote...

Share this article with a friend...