H-2A: Die mense agter dié wat oorsee gaan werk

Platinum Weekly koerant – Vir baie Suid-Afrikaanse landbougesinne het die H-2A-program ’n belangrike deel van hul lewens geword. H-2A is die Amerikaanse visumklassifikasie vir tydelike of seisoenale landbouwerkers. Agter elke persoon wat tasse pak om op ’n plaas in Amerika te gaan werk, staan daar egter ’n eggenoot, kinders, ouers en ’n hele gesin wat saam die opoffering dra. Die program bied Suid-Afrikaners die geleentheid om ’n beter inkomste te verdien, waardevolle ondervinding op te doen en finansieel vir hul gesinne te sorg. Maar die prys wat daarvoor betaal word, is tyd – kosbare tyd wat nie saam met geliefdes deurgebring kan word nie.
Sommige H-2A-werkers bring etlike maande op ’n slag in Amerika deur. Dit beteken dat ’n pa nie noodwendig deel is van sy kinders se alledaagse lewe nie – skoolgeleenthede, verjaarsdae, sportdae, familiebyeenkomste en al die klein oomblikke wat ’n mens maklik as vanselfsprekend aanvaar. Vir baie gesinne is dit egter nie bloot ’n keuse tussen twee werksgeleenthede nie. Plaaslike werk wat dieselfde finansiële geleenthede bied, is eenvoudig nie altyd beskikbaar nie.
Die pad Amerika toe
Om deur die H-2A-program Amerika toe te gaan, is nie so eenvoudig soos om ’n tas te pak en op ’n vliegtuig te klim nie.
Aansoekers werk dikwels deur ’n werwingsagent wat hul ervaring en vaardighede evalueer en probeer bepaal by watter soort boerdery en werk hulle die beste sal pas. Daarna volg die visum- en reisreëlings voordat die lang reis uiteindelik kan begin.
Daar kan ook groot aanvanklike uitgawes wees. Afhangend van die werwings- en terugbetalingsreëlings, kan ’n werker aanvanklik geld vir onder meer die visumproses en vliegtuigkaartjie moet voorsien. Die bedrag kan maklik tienduisende rande beloop, veral wanneer die wisselkoers in berekening gebring word. Maar wanneer die vliegtuig uiteindelik opstyg, begin die ander kant van die H-2A-lewe.
“Ek moes leer om alles self te doen”
Vir Madeleine Bokelmann, wie se man H-2A-werk in Amerika doen, het dié leefwyse beteken dat sy as vrou en ma moes leer om baie dinge self te hanteer.
“Ek moes leer om alles op my eie te doen. Ek moes selfs leer hoe om self ’n band om te ruil en ’n motorbattery te laai,” vertel sy.
Hoewel die gesin mettertyd by die nuwe leefwyse aanpas, sê Madeleine dit bly ’n daaglikse uitdaging.
Hulle probeer deur gereelde kommunikasie steeds deel van mekaar se lewens wees. ’n Gesprek wanneer hy soggens opstaan en weer voordat hy gaan slaap, help om die afstand ’n bietjie kleiner te laat voel.
“Dit bly moeilik. Elke dag is ’n stryd,” sê sy.
Die moeilikste oomblikke is wanneer sy siek is en haar man nie daar is om te help nie. Omdat familie ook nie noodwendig naby woon nie, moet sy eenvoudig aanpas en voortgaan. Vir die kinders is dit dieselfde. Daar is goeie dae en moeilike dae, veral wanneer pappa nie ’n belangrike geleentheid kan bywoon nie. Verjaarsdae, huweliksherdenkings, ’n wintersbal of selfs ’n Graad 3-dans kan bittersoet wees – juis omdat een belangrike persoon nie daar is om dit saam met hulle te beleef nie.
“Die grootste opoffering is dat ons nie tyd saam deurbring en herinneringe maak nie,” sê Madeleine.
Wanneer haar man wel terugkeer, mors die gesin nie tyd nie. “Ons gaan sommer dadelik saam uit om te eet.”
Haar boodskap aan ander H-2A-gesinne is eenvoudig: Kommunikasie is uiters belangrik. Al leef ’n pa en sy gesin maande lank in verskillende lande, moet hulle daarteen waak om by mekaar verby te begin leef. “’n Mens moet jou leefstyl aanpas om voort te gaan sonder om by mekaar verby te leef. Vertrou mekaar en onthou waarom julle dit doen.”
’n Mamma se perspektief
Dit is nie net die vrou wat tuis agterbly wat die afstand voel nie. Vir Anina Nel, wie se seun Amerika toe is om H-2A-werk te doen, het sy eerste vertrek ’n ander soort kommer gebring – dié van ’n ma wat haar kind duisende kilometers ver moet laat gaan.
“Die onbekende wat hy aangedurf het, was my grootste bekommernis. Ek was veral bekommerd oor die reis en dat hy van een vliegtuig na ’n ander moes gaan. Ek was bang hy raak deurmekaar en weet nie wat om te doen nie.”
Om te weet jou kind is so ver van die huis af, is nie maklik nie. Tog sê Anina dat moderne tegnologie help om die afstand aansienlik kleiner te laat voel.
“Dit is moeilik omdat hy so ver is. Maar of jy nou in Amerika of in die Kaap is, ’n mens kan nie sommer net in die motor klim en daarheen ry nie. Vandag se tegnologie is uitstekend en ’n mens kan gereeld oor die foon praat, wat baie help.”
Ten spyte van die tydsverskil probeer hulle gereeld kontak hou. Volgens Anina raak ’n mens mettertyd gewoond aan die verskillende tydsones.
“’n Mens voel geruster wanneer jy weet waar hulle is.” Die dae waarop sy haar seun die meeste mis, is dieselfde dae waarop talle ander H-2A-gesinne ook hul geliefdes die nodigste het – tydens groot familiebyeenkomste, verjaarsdae en ander belangrike geleenthede. Gelukkig, sê sy, haal haar seun vinnig in wanneer hy weer tuis is.
Die bekommernis van ’n mammahart
Anders as wat sommige mense dalk verwag, sê Anina dat sy nie voortdurend oor haar seun se veiligheid bekommerd is nie. Haar grootste kommer is eerder die lang ure wat hy werk.
“Tyd is geld. Hoe meer ure hulle werk, hoe beter is die inkomste. Dit hang natuurlik ook af van die soort werk wat jou kind doen.” Sy het egter ook ’n duidelike verandering in haar seun opgemerk sedert hy oorsee begin werk het. Volgens haar het hy meer volwasse en selfstandig geword. Hy het ook geleer om ’n begroting op te stel en verantwoordelik met sy geld te werk.
Dan is daar daardie oomblik waarvoor elke H-2A-ma wag: wanneer haar kind weer veilig tuis is. “Dit is die lekkerste gevoel wanneer jou kind terug is – veral wanneer hy jou verras deur met ’n vriend te reël om hom by die lughawe te gaan haal en dan sommer onverwags by mamma se werk of by die huis opdaag.”
Vir ’n mammahart is daar min dinge wat daarmee vergelyk kan word. “Dit is die lekkerste gevoel om jou kind weer styf vas te hou – veilig terug en sonder die spanning.”
Meer as net geld
Vir Anina gaan H-2A nie net oor geld verdien nie. Die program bied haar seun die geleentheid om ondervinding op te doen, nuwe kennis te bekom en as mens meer selfstandig te word.
Haar boodskap aan ander ouers wie se kinders dit oorweeg om H-2A-werk te gaan doen, is om rustig te bly. “Die goeie boere kyk mooi na die kinders. Ondervinding en kennis kan niemand van jou wegneem nie. Hulle leer daar dinge wat hulle nie noodwendig hier sou kon leer nie.”
Uiteindelik is dit dalk die kern van die H-2A-lewe: ’n geleentheid wat finansiële voordele, persoonlike groei en waardevolle ondervinding kan bring, maar wat terselfdertyd ’n gesin se vermoë om afstand, verlange en gemiste oomblikke te hanteer, op die proef stel.
Vir die persoon wat oorsee werk, is dit maande se harde werk. Vir die eggenoot wat tuis bly, is dit maande van selfstandig wees. Vir die kinders is dit maande waarin pappa se plek by belangrike geleenthede leeg bly. En vir die ouers is dit maande waarin hulle moet vertrou dat hul kind veilig is en die beste van die geleentheid maak. Maar wanneer die vliegtuig uiteindelik weer land en daardie langverwagte drukkie plaasvind, voel die maande se afstand vir ’n oomblik die moeite werd.

