Articles
Churches & NGO News
25 November 2021

Rustenburg – NG Proteapark se jaarlikse Liggies vir Lewe-Fees vind hierdie jaar van 28 November tot 1 Desember plaas. Die tema van hierdie jaar se fees is: ONS GEE. 


Die Rustenburg-gemeenskap word hartlik uitgenooi om hierdie opelug skouspel te kom besigtig. Die Liggiefees-projek het in 2015 ontstaan toe NG Proteapark se kerkgebou vir die eerste keer deur liggies versier is. 


Hierdie jaar word nuwe liggies bygevoeg – dit is meer as drie kilometer se liggies! 
NG Proteapark nooi almal oor om die geboorte van Jesus en die betekenis van Sy sterwe wat uitgebeeld word in liggies, te aanskou – ‘n besondere Kerservaring. 


Daar sal weer uitstallers wees by die fees; en nie een stalletjie verkoop dieselfde produkte nie. Dit is tussen 16:00 en 21:00 om die atmosfeer van ‘n nagmark te skep. Dis ‘n fees van liggies en uitstallings! Kom kry sommer ook jou aandete by die verskeie kosstalletjies.

  • Sondagaand, 28 November tree Ruhan du Toit op, waarna die liggies aanskakel sal word. Die optrede begin om 18:30. Dis gewoonlik ‘n besondere geleentheid wat menige mense na hul asems laat snak. 
  • Maandag, 29 November om 17:00 word daar “laser tag” in die Teatro vir oud en jonk aangebied. Bring jou vriende en daag mekaar uit! 
  • Dinsdag, 30 November om 17:30 kom kuier ‘Bee Bee die By’ vir die kleinspan! Pryse word uitgegee vir die oulikste bytjies! 
  • Woensdag, 1 Desember om 16:00 word daar ‘n Sterkmankompetisie aangebied. Kom wys jou spiere en wys jou krag! Daarna, om 18:30, word die Liggies vir Lewe-Fees afgesluit met Kersliedere. ‘n Nuweling in die musiekwêreld, Thabang Malan, is deel van die Kerssangskouspel – moet dit nie misloop nie!  

Tussendeur alles gaan NG Proteapark se gewilde treintjie, die Liggie-Express, weer die kleingoed rondrits. Kom wees deel van hierdie besonderse geleentheid en laat jou liggie helder vir Jesus skyn! Die kerk se liggies kan elke aand tot en met 25 Desember besigtig word.
 
Vir verdere navrae kontak die kerkkantoor by 014 533 4028, dr Deon Strauss by 083 627 5085 of bemarkingsbeampte Christel Herbst by 082 785 2439.  

Verlede jaar se fees was ‘n reuse sukses! 

#FosteringASenseOfCommunity

Share this article with a friend...