Articles
Churches & NGO News
03 July 2021

Rustenburg – Vir meer as ‘n honderd jaar al pronk Rustenburg met ‘n pragtige historiese gebou op die hoek van Kerk- en Von Wielligh straat wat al vele doele gedien het. Die gebou met sy hoë spitsdakke, hout vensterrame en dik mure was onder andere al in besit van die Gereformeerde Kerk en was ook eens die heel eerste Juniorskool in Rustenburg. 


 Die Hoërskool Rustenburg het in die 1920’s ook gebruik gemaak van die gebou voordat hulle hulle huidige skoolgebou gevestig het. Vir baie staan dit vandag bekend as die voormalige Sing Spring Kleuterskool wat al jare lank leegstaan en vergaan.


In Januarie van 2021 het die Rustenburg Skool vir Buitengewone Onderwys besluit om die ou skoolgebou nuwe lewe in te blaas. Die projek was geloods deur die hoof, Lamar Winter, en die beheerliggaam van die spesiale skooltjie omdat leerdergetalle toegeneem het en nuwe klaskamers benodig was. Lamar het ‘n persoonlike band met die gebou, omdat sy self as kind daar skoolgegaan het.  


Die taak was egter groter as verwag aangesien die gebou so oud en verwaarloos was. Daar was krake in die mure so groot dat ‘n mens se hand daarin kon pas, die dak was geroes en het orals gelek, en die ou hout vensterrame het al begin disintegreer. Die herstelproses was verder verhinder deur die feit dat die gebou historiese waarde het en sy integriteit sodoende behou moes word. Finansies en tydsberekening was dus ‘n groot kopseer van die begin af.


Gebede was verhoor, en danksy ‘n anonieme skenker vanuit die NG Kerk Proteapark kon die opknapping van die gebou van stapel gestuur word. Die skenker het begin deur die skooltjie te beveilig met ‘n 2,4 meter hoë muur, al die vensters te vervang, die dakke te herstel en oor te verf, en die plafonne te vervang. Dit alles sonder dat Buitengewoon ooit geweet het wie hy/sy is!


Die Rustenburg Skool vir Buitengewone Onderwys wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om hierdie engel van ‘n mens te bedank vir sy/haar onbaatsugtige, vrygewige en liefdevolle bydrae tot ons skooltjie se uitbreiding.

Daar bestaan eintlik nie genoeg woorde en maniere om ons dankbaarheid voldoende te kan uitdruk nie. Danksy u kan ons leerders in ‘n veilige en pragtige deel van Rustenburg se erfenis leer, groei en ontwikkel.

Danksy ‘n anonieme skenker kon die opknapping van die gebou van stapel gestuur word.

 

Share this article with a friend...