Articles
Social & Community News
25 September 2020

Rustenburg – Die AfriForum-buurtwag in Rustenburg het op Saterdag 12 September veiligheidsmonitering by die Departement van Binnelandse Sake gedoen. Groot hoeveelhede mense besoek dié departement op Saterdae en dit het vroeër vanjaar veiligheidsinsidente tot gevolg gehad.

Dié buurtwag het die area van 08:00 tot 14:30 gemoniteer en geen voorval is aangemeld nie.

“Die gemeenskap voel nie veilig wanneer hul dokumente by die departement gaan afhaal nie. Baie mense beskou die area as uiters onveilig en die groot groepe mense veroorsaak ‘n geweldige veiligheidsrisiko. Dit is veral ‘n probleem aangesien baie kinders hul identiteitsdokumente daar moet gaan afhaal. AfriForum se buurtwag staan egter gereed om mense veilig te hou en is dankbaar dat daar die afgelope naweek geen voorvalle was nie,” sê AfriForum se Rustenburg-tak veiligheidsvoorsitter Dawie Odendaal.

“Hierdie sukses sou nie moontlik gewees het sonder die positiewe verhoudings tussen die verskeie gemeenskapsveiligheid strukture in Rustenburg nie. AfriForum is dankbaar om deel van ‘n gemeenskap te wees wat saam staan – veral wanneer dit kom by ons gemeenskapslede en hul geliefdes se veiligheid,” sê AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico Petrus Coetzee.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45351 (R1).

AfriForum-buurtwag lede Marlene Odendaal, Kobus Steyn en veiligheidsvoorsitter Dawie Odendaal.

 

Share this article with a friend...