Articles
Sport & School News
18 September 2020

SA - Die Hoop Ongegrendeld koorproduksie het reeds meer as 160 geregistreerde koorlede wat besig is met afronding en opnames.

“Ons is opgewonde oor al die registrasies en die video’s wat ons ontvang het en sien regtig uit na die finale produk,” sê ds. Henning Dafel, die organiseerder. “Daar is nou maar net iets spesiaal wat gebeur wanneer ‘n klomp gewone stemme saamgemeng word tot ‘n groot geheel. Ons vind dat van die koorlede twyfel wanneer hulle net hulle eie stemme se opnames hoor, maar sodra ons die stemme meng breek die mooiste koorklank deur!”

Verskeie bekende, gesoute en professionele sangers soos Alida Stoman, Franzel de Wet, Elme Churr, Soané Ludick, Melindie Pretorius en Rudi Muller het reeds ook hulle deelname bevestig. Soané is ‘n lid van die Noordwes Universiteit se koor en ‘n ou hand met virtuele koorproduksies. Sy gee op die webblad ook raad vir opnames.

Die duo van Bo-Produksies, Olga en Babette, wat gereeld optree by groot kunstefeeste en afgesien van sang ook verskeie musiekinstrumente soos die trekklavier bespeel, het ook hulle deelname aangekondig.

Die organiseerders het verder besluit om die spertyd vir opnames te verleng tot 12 Oktober sodat deelnemers hulle stukke verder kan inoefen en afrond voordat hulle dit opneem. Dit beteken dan ook dat mense steeds kan registreer.

Met dié virtuele koorproduksie kan enige persoon wat daarvan hou om te sing, deel van die virtuele koor vorm. Die finale produk sal tussen 16 en 21 Desember op die Dapper Media platform gestroom word. Deelnemers registreer op die webblad en kan daar na die koorleier Braam van Tonder se video’s en riglyne kyk.

Finale opnames moet asseblief teen 12 Oktober aan hoop@apkerk.co.za gestuur word.

Hoop Ongegrendeld persverklaring, 15 September 2020

Share this article with a friend...