Articles
Sport & School News
18 September 2020

Rustenburg – Laerskool Rustenburg, Laerskool Proteapark en Laerskool David Brink het in ‘n konvooi Port Elizabeth veilig bereik op Saterdag, 12 September tydens die #TrapSaam spin fietswedren. 

Dié skole se doel was om 1,099km te trap tydens die 7 ure wat die ‘resies’ geduur het.  Al die drie skole het in hul doel geslaag en het selfs méér kilometers getrap aan die einde van die resies.

Die spin fietswedren was  beslis ‘n  hoogtepunt op die jaar se skoolkalender. Die voorreg om hande te kon vat met skole in Rustenburg en om die gees te beleef wat geopenbaar was, was ‘n voorreg en ‘n geleentheid wat die gemeenskap se hart laat klop het.

So ‘n dag gebeur nie net nie, namens al die skole wil ons graag die volgende persone bedank wat bygedra het tot die projek:

Eerstens, die twee skoolhoofde van Bloemfontein wie die inisiatief aanvanklik beplan het en die inisiatief gedeel het, sonder hulle sou so ‘n geleentheid nie die jaar posgevat het nie. Die projek is ten bate van personeel wat in beheerliggaam poste by skole aangestel is. Hul poste is in gevaar weens die afname in betaling van skoolgeld tydens die COVID-19 pandemie en die fondse wat tydens die inisiatief ingesamel word, sal aangewend word tot hul salarisse.

Dankie aan SOS Skole wat in samewerking met Solidariteit die #TrapSaam platform geskep het en die skole in die land betrek het. Laerskool Proteapark, Laerskool David Brink en Laerskool Rustenburg het sonder enige huiwering ingekoop in die inisiatief en as ‘n SPAN het hulle die wonderlik dag bymekaar gesit.

Namens die deelnemende skole wil ons vir AfriForum Rustenburg voorsitter Chris Trytsman bedank vir die prysgeld wat hulle geborg het vir elke deelnemende skool. Chris het opgemerk tydens sy openingstoespraak dat ‘n mens nie sit en wag vir dinge om te gebeur nie – ‘n mens vat hande en neem aksie – en dis presies wat die skole gedoen het! ‘n Welbekende apteekgroep het ook ‘n donasie vir elke skool gegee – wat ‘n wonderlike omgee gebaar en bewys van gemeenskapsondersteuning. Dankie vir die water en die energiebederfies – verseker het dit bygedra tot die deelnemers se prestasies!

Die skole is dankbaar vir elke besigheid, gemeenskapslid, vriend, ouer en leerder van die deelnemende skole wat donasies gemaak het en pryse vir die dag geborg het – die lys van borge is op die http://www.rtbtrapsaam.co.za/ webblad wat geskep is deur Visual Corp. Die hele dag se gebeure is lewendig uitgesaai.

Almal is dit eens dat die projek ‘n reuse sukses was en dat die inisiatief ‘n jaarlikse instelling kan word. Dit sal wonderlik wees as meer skole in die toekoms die lang pad saam kan aandurf see toe!

Mariette Deysel (links) en Marinda de Beer het Laerskool Proteapark verteenwoordig.
Van links: AfriForum Rustenburg voorsitter Chris Trytsman en Laerskool Rustenburg ondersteuners Suretha Booysen en Jeani Nortje.
Elisma Schutte (links) en Franz Rabel trap vir Laerskool Dawid Brink.

 

Share this article with a friend...