Articles
Social & Community News
21 August 2020

Rustenburg – AfriForum se Rustenburg-tak het die afgelope maand weer in samewerking met Solidariteit Helpende Hand sowat drie ton voedsel aan 200 behoeftige gesinne uitgedeel. Die voedselpakke, wat ‘n gesin van vier vir ‘n maand van voedsel voorsien, bevat noodsaaklike voedsel soos mieliemeel, boeliebief, rys en pasta, maar ook seep en tandepasta.

“Ons wil die Rustenburg-gemeenskap bedank vir hul bydraes tot die tak se noodhulpfonds. Dié fondse stel ons in staat om voedsel te verskaf aan mense wat hul werk weens die COVID-19-pandemie verloor het of verminderde salarisse ontvang. Die groot hoeveelheid voedsel wat reeds geskenk is, is bewys dat dié fondse doeltreffend aangewend word om nood in die gemeenskap te verlig,” sê AfriForum se Rustenburg-tak voorsitter Chris Trytsman.

“Die Rustenburg-tak wil graag voortgaan om die gemeenskap van voedsel te voorsien omdat ons besef dat die ekonomiese krisis wat deur COVID-19 veroorsaak is, gaan voortduur. Ons moedig sowel ons lede as die algemene publiek aan om skenkings aan ons tak se noodfonds te maak of om voedsel en noodsaaklike produkte te skenk,” sê AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico Petrus Coetzee.

Dra by tot AfriForum se Rustenburg-tak se noodfonds: SMS “Nood” na 32782 (R1).
AfriForum persverklaring, 30 Julie 2020

Share this article with a friend...