Articles
Social & Community News
04 April 2023

Mooinooi – Net buite Mooinooi, is Huis Bet El waar bejaarde mense bo 60 wat slegs ‘n SASSA pensioen ontvang verblyf kan kry.

Platinum Weekly het op Maandag 20 Maart 2023 met Tom en Annemarie Esterhuizen gesels oor hul roeping by die huis vir bejaardes. 


Tom en Annemarie Esterhuizen het ‘n liefde vir alleen bejaarde mense gekry in Marloth Park waar baie bejaardes alleen bly, en het saam met Solidariteit Helpende Hand begin om bejaardes te help. Die paar het kort daarna werk gekry by Radiokansel en hulle kampterrein bestuur. “Ons het later in 2007 ons pensioen geneem en ‘n lodge gebou vir ‘n ekstra inkomste.

Die lang storie kort is dat ons later gevoel het dat die Here ons aan die stuur gesit het om vir bejaardes te sorg,” vertel Annemarie.


Hulle het in Februarie 2020 begin met vyf mense. Daar was nog nie eers badkamers gewees nie. Weldoeners het intussen begin om van die kamers te borg en daar is nou al 10 kamers en twee badkamers vir die 12 inwoners.

‘n Eetsal wat deur skenkings gefinansier word, is tans in die werke
Inwoners kry twee etes daagliks, met ‘n bietjie hulp van die huis se groentetuin wat deur die bejaarde inwoners onderhou word . Huis Bet El inwoners kook ook graag konfyt en hekel opvoedkundige speelgoed om fondse in te samel.  


“Ons kan nie anders as om eer aan ons Vader te gee nie. Hy het voorsien,” vertel Annemarie.
Daar is egter nog baie werk om te doen, die ekstra 10 kamers moet nog deure en krag kry, en die vloere en badkamers moet nog opgekikker word.

Meeste van die werk word deur Tom gedoen, en met ‘n waglys van 16 mense, daar is daar altyd baie werk om die huis te vorder en ‘n groot behoefte vir hande om te help. Eskom tariewe vat ook ‘n groot hap uit hulle begroting, so hul hoop om die kamers binnekort op sonpanele te koppel.


Die Esterhuizens wil graag die gemeenskap nooi om met die inwoners te kom kuier, en om self te sien wat hulle doen.


Vir meer inligting oor Huis Bet El kontak Annemarie op 082 936 9874.

Huis Bet El is ‘n plek van rus, maar daar is altyd ‘n behoefte aan hande om te help.

#FosteringASenseOfCommunity

Share this article with a friend...