Churches & NGOs

Rustenburg se rol in die geskiedenis van die drie susterkerke

9 October 2026 · Platinum Weekly

Rustenburg se rol in die geskiedenis van die drie susterkerke

Die Seringboommonument in Kerkstraat, Rustenburg, herdenk die stigting van die Gereformeerde Kerk op 11 Februarie 1859 – ’n klein monument met diep wortels in die dorp se kerkgeskiedenis.

Platinum Weekly koerant | Rustenburg – Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), in kort die NG Kerk, die oudste van die drie is gestig met die koms van Jan van Riebeeck in 1652 in Kaapstad. Dit het saam met die trekke binneland toe versprei. Die Rustenburg Moedergemeente is die tweede oudste NG-gemeente noord van die Vaalrivier (naas Potchefstroom) en is op 21 Januarie 1850 gestig.

Na die Groot Trek was die Voortrekkers in die Transvaal kerklik herderloos, omdat die Kaapse NG Kerk die Trek veroordeel het. Die Voortrekkers wou niks met die Kaapse kerk of die Britse owerheid te doen hê nie.

In 1850 is die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), in kort die Hervormde Kerk, se Rustenburg gemeente gestig as die tweede oudste gemeente in Transvaal. Die deurbraak kom in 1853 toe ‘n jong predikant uit Nederland, ds. Dirk van der Hoff, hom in Transvaal vestig.

In Augustus 1853 is die heel eerste amptelike Algemene Kerkvergadering (Sinode) van die NHKA in Rustenburg gehou. Hier is die NHKA verklaar as die amptelike staatskerk van die nuwe Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR).

Die staat en die kerk was een; die Transvaalse Vierkleur-vlag is selfs later by die kerk ingewy, en Paul Kruger (wat toe nog ‘n jong man was) was ‘n trotse lidmaat van hierdie kerk in Rustenburg.

Die “Seringboom-Rebellie” (1859)

Die eenheid het nie lank gehou nie. In die Rustenburg-gemeente was daar mense (onder leiding van die Kruger-familie) wat geweier het om die “Evangeliese Gesange” te sing wat saam met Van der Hoff ingebring is. Hulle wou net Psalms sing.

Toe ds. Dirk Postma in 1858 uit Nederland aankom om hierdie beswaardes te ondersteun, het die spanning oorgekook. Op 11 Februarie 1859 wou 311 beswaarde lidmate van Rustenburg amptelik afstig. Die Hervormde Kerkraad van Rustenburg was so kwaad dat hulle geweier het om hul kerkgebou aan die “Dopper-rebelle” beskikbaar te stel.

Gevolglik moes Paul Kruger en die stigters van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), in kort die Gereformeerde Kerk letterlik straataf stap en die nuwe kerk onder ‘n makseringboom buite die gebou stig. Dié historiese seringboomstam staan vandag nog in Rustenburg as ‘n nasionale monument. Platinum Weekly het onlangs die monument, wat in Kerkstraat in die parkeerarea oorkant Checkers in die sentrale besigheidsgebied van Rustenburg is, besoek.

In Februarie 1947 het die S.A. Historiese Monumentekommissie hierdie boomstomp tot ’n historiese monument verklaar, en ’n tweede gedenkplaat met ’n gepaste bewoording is ook daarop aangebring. In Maart 1959, tydens die eeufees van die Gereformeerde Kerk in S.A., het groot getalle feesgangers van alle dele van S.A. asook oorsese lande hierdie boomstomp besoek. Tydens die Transvaalse Burgeroorlog (1860–1864) was die gort weer gaar in Rustenburg. Dit was ‘n fisiese, gewapende stryd waarby die kerklike faksies en die staat direk betrokke was. Die oorsaak: Die mense van die ZAR was diep verdeeld oor wie die wettige president moes wees (Stephanus Schoeman vs. Willem van Rensburg). Hierdie politieke stryd het vinnig in ‘n kerklike faksiestryd ontaard. Die Hervormde volksleier Schoeman het ‘n weermag (die “Volksleër”) op die been gebring, terwyl Paul Kruger (nou die kommandant-generaal en verdediger van die nuwe Dopperkerk en die staat) die “Staatsleër” gelei het.

Die fisiese botsing: In Januarie 1864 het hierdie twee weermagte mekaar fisies buite Rustenburg gepak by die Slag van Krokodilrivier. Gewere is afgevuur, kanonne is ingespan, en mense is doodgeskiet in ‘n broermoordoorlog tussen die faksies. Kruger het uiteindelik vir Schoeman oorwin en Rustenburg ingeneem. Hierdie paar dae van fisiese oorlog het die spanning tussen die verskillende kerklike groepe vir dekades daarna gesementeer.

Die Bitter Eiendomsoorlog (1885–1895)

Asof dit nie genoeg was nie, het die oorblywende Hervormers en NG-lidmate in 1885 besluit om saam te smelt om die stryd te beëindig. Dit was ‘n ramp. Baie Hervormers op Rustenburg het geweier om hul identiteit op te gee en het die samesmelting teengestaan.

‘n Bitter “eiendomsoorlog” het in die howe uitgebreek oor wie die eienaar van die fisiese kerkgeboue en die geskiedkundige Kerkplein op Rustenburg was. In 1894 het die Hooggeregshof beslis dat die NHKA (Hervormde Kerk) die volle eienaar is van die eiendom.

Die faksie wat wou saamsmelt (die NG Kerk) is letterlik van die perseel afgesit. In Julie 1895 moes die verarmde NG-gemeentelede met “vele trane, bitter en platgeslaan” hul geliefde kerkgebou op die plein vir oulaas verlaat. Die ZAR-regering moes inderhaas vir hulle vier nuwe erwe in die dorp skenk sodat hulle ‘n nuwe kerk kon bou (die huidige NG Moederkerk op Rustenburg).

Onlangs was die drie susterkerke in die nuus met die NG Kerk en die Hervormde Kerk se protes teen die GKSA (Gereformeerde Kerk) Algemene Sinode se ultimatum oor die uitsluiting van vroue in die amp.

Die geskiedenis van die kerke rondom Rustenburg is dus geensins vaal of vervelig nie – dit was letterlik ‘n stryd vir eienaarskap, belydenis, en politieke mag wat met gewere en hofsake besleg is!

Ten spyte van die onlangse spanning en formele meningsverskille oor vroue in die amp, vind die drie kerke steeds belangrike gemeenskaplike grond op ander vlakke: Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling is in 2006 begin en is na 15 jaar se intensiewe werk deur meer as 170 medewerkers afgehandel en bekendgestel in November 2020. Al drie kerke werk steeds nou en harmonieus saam binne die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Hulle stem volkome ooreen oor die noodsaaklikheid, teologiese akkuraatheid en ondersteuning van die Bybelgenootskap. Dit bring teoloë en taalkundiges van al drie kerke gereeld by dieselfde tafel uit.

Gemeenskaplike belydenisbasis: Al drie kerke beklemtoon gereeld dat hulle ten spyte van strukturele verskille onwrikbaar bly ooreenstem oor die Drie Formuliere van Eenheid (die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls). Hulle stem saam dat hierdie historiese dokumente die kern van die gereformeerde identiteit in Suid-Afrika vorm.

Konserwatiewe maatskaplike waardes: Oor sake soos die beskerming van geloofsvryheid in Suid-Afrika, morele waardes in die samelewing, en die hantering van algemene maatskaplike verval, praat die leierskap van die kerke dikwels met dieselfde stem.

Rustenburg se kerkgeskiedenis vertel van geloof, verdeeldheid en pogings tot eenheid. Die Seringboommonument herinner ons hoe diep dié geskiedenis in die dorp gewortel is.