Articles
Headline News
04 August 2017

Rustenburg – As deel van sy landsdiensportefeulje vanjaar, het Christopher Herbst (12), ‘n leerling van Laerskool Vastrap, hierdie jaar betrokke geraak by die bewusmaking van die siekte sistiese fibrose.

Hy het hierdie taak aangepak nadat sy jeugleier, mev Riekie Terblanche, hom aan Marsulize (22) en JD (25) Barnard voorgestel het. Hulle en hul ouers, Suretha en Jan Barnard, is al jarelange inwoners van Rustenburg.

n Foto van die bandjies wat gemaak word ten bate van sistiese fibrose
‘n Foto van die bandjies wat gemaak word ten bate van sistiese fibrose

Die Barnard-gesin is besig met ‘n bewusmakingsprogram om mense van hulle siekte bewus te maak deur gehore by funksies toe te spreek en armbandjies teen R20 elk te verkoop. Die fondse word aangewend om ander lyers van die siekte te help, en ook om mense bewus te maak van hul siekte.

Christopher het betrokke geraak deur ook armbandjies te verkoop en kinders by sy skool, asook vriende en familie bewus te maak. Hy het tussen Mei en Julie 2017 ongeveer R5020 ingesamel en amper 350 bandjies gehelp maak.

Van links: Heleen Schultze, landsdiensorganiseerder van Vastrap; Christopher Herbst en sy ma, Christel Herbst tydens n landsdiensaktiwiteit by sy skool. Voor is Suretha Barnard, ma en Marsulize Barnard en JD Barnard.
Van links: Heleen Schultze, landsdiensorganiseerder van Vastrap; Christopher Herbst en sy ma, Christel Herbst tydens ‘n landsdiensaktiwiteit by sy skool. Voor is Suretha Barnard, ma en Marsulize Barnard en JD Barnard.

Om betrokke te raak, kontak Christel Herbst by 082-785 2439. Nog heelwat armbandjies moet verkoop word!


Wat is sistiese fibrose?
Sistiese fibrose (SF) is een van die algemeenste genetiese siektes in Suid-Afrika. Hoewel dit die lyers se lewensverwagting inkort, lei heelparty pasiënte ‘n gesonde en vol lewe. 

Wat is die simptome en tekens van SF?
Dik, taai slym verhinder dat veral die longe en pankreas normaal funksioneer. Die vel proe souterig, dik slym in die keel, ‘n chroniese hoes, gereelde respiratoriese infeksies, poliepe in die neusgange en verstoppings in die ingewande.

Tekens sluit ook gewoonlik ‘n groot eetlus in, maar swak gewigaanwas, vertraagde groei, verdikking van die vinger- en toonpunte, diarree, chroniese lewerprobleme en moegheid. 

Behandeling van SF?  
SF kan nie genees word nie, maar die lewensvooruitsigte en lewensverwagting is danksy mediese vooruitgang aan die verbeter. Lyers benodig gereelde hospitalisasie en voortdurende medikasie soos antibiotika, slymverdunnende middels, stuifsproeiers, ensieme en voedselaanvullings. In sommige gevalle word longe oorgeplant.

Share this article with a friend...