Articles
Social & Community News
20 March 2020

Rustenburg - Verskeie Rustenburg patrolliegroepe het misdadigers ore aangesit tydens die massa-patrollie van Vrydag 13 tot Saterdag 14 Maart.


Die suksesvolle massa-patrollie is deur AfriForum Buurtwag se Rustenburg-tak aangebied en het ondersteuning gehad van groepe soos die Rustenburg Community Crime Forum (RCCF), Gemeenskap Polisie Forum (GPF), Wen Komando, Bojanala Crime Unit en die NCA.


Daar het ongeveer 164 mense deelgeneem wat altesaam 538 man-ure ingesit het en 1 704 km is afgelê om die kriminele op te hok.


Die gesamentlike operasionele sentrum was by die Gereformeerde Kerk Wes se saal waar die massas as een man saamgestaan het.


Die patrollie het nie net in Rustenburg plaasgevind nie maar AfriForum se buurt - en plaaswagte in Brits, Coligny, Hartbeespoort, Koster, Mooinooi en Zeerust het ook in hul verskeie areas aan patrollies deelgeneem om polisiëringsigbaarheid te verhoog.


Altesaam het 637 patrolleerders 7 304 km in 348 voertuie afgelê. AfriForum het vyf insidente hanteer, wat huismoles, die ondersoek van vuurwapenskote en poging tot huisbraak ingesluit het.


“AfriForum se veiligheidstrukture in Marico sal aanhou om veiligheidskwessies in dorpe op te los en sigbaarheid in die streek te verbeter. Ons strategie is proaktief en fokus daarop om pogings tot misdaad te verminder. Veiligheid is baie belangrik in enige gemeenskap en die AfriForum-takke neem dit ook baie ernstig op. Met goeie samewerking tussen AfriForum-buurtwagte, die SAPD en ander rolspelers kan ons soveel meer bereik en ons gemeenskappe beter beveilig,” sê AfriForum distrikskoördineerder vir Marico Petrus Coetzee.


AfriForum Buurtwag Rustenburg-tak voorsitter Dawie Odendaal en AfriForum Buurtwag Rustenburg-tak lid Marlene Odendaal wil graag baie dankie sê aan dominee Ockert Oosthuizen vir die kerksaal, Peter Frankleyn, Jan Erasmus en Cemblocks vir die koeldranke, Nadene Loots vir die worsrolletjies, RCCF vir die wors, Sanet Odendaal vir die vuurmaakhout, Pack & Spice vir die kerrie en rys bakkies. Marlene Odendaal het ook gesorg vir die botteltjies water en al die kos voorbereiding.


Die volgende massapatrollie sal op 19 Junie plaasvind en AfriForum Buurtwag Rustenburg-tak beplan om weer vir al die deelnemers van kos en drinkgoed te voorsien, wat sal insluit: groentesop met brood, worsrolletjies, koeldrank, water, koffie en tee. 

Hul vra dat alle buurtwag, straatwag, blokwag, omgewingwag of patrollie organisasies Dawie Odendaal sal kontak op 072 074 9620 of Marlene Odendaal op 082 679 0719 indien hul wil saamwerk in die veldtog teen misdaad.

Van links: AfriForum Buurtwag Rustenburg-tak voorsitter Dawie Odendaal, AfriForum Buurtwag Rustenburg-tak lid Marlene Odendaal en AfriForum Buurtwag Rustenburg-tak lid Jan Erasmus was aan die stuur by die massa-Patrollie.
Verskeie lede van die CPF het ook hul deel gedoen tydens die massa-patrollie.

 

Share this article with a friend...