Articles
Crime & Accidents News
08 November 2019

Thabazimbi – Op Donderdagmiddag 31 Oktober het ‘n aantal gewapende rowers op ‘n PEP Store winkel in Lephalale toegeslaan. Die verdagtes het van die toneel gevlug met gesteelde goedere.


Polisie in die area het soos blits reageer en dadelik skouer aan die wiel gesit om die paaie in die rigting van Thabazimbi en Vaalwater te patrolleer. 


‘n Quantum bussie is om 21:15 deur die Hoopdal polisie, ‘n paar kilometer van die Lephalale T-aansluiting op die Thabazimbi Sentrum pad afgetrek. Voor die bussie tot stilstand kon kom, het van die verdagtes uitgespring en die bosse ingevlug. 


Twee vuurwapens en ‘n aantal gesteelde selfone is in die voertuig gevind wat daarop gedui het dat dit moontlik die winkelrowers se voertuig was.


Die Hoopdal polisie het dadelik die Matlabas plaaswag in kennis gestel en binne 20 minute was die eerste plaaswaglede en lede van die Heritage Protection Group (HPG) op die toneel ontplooi. ‘n Halfuur later was daar meer as 20 bakkies besig om die area te fynkam en alle toegangsroetes te patrolleer. 


Volgens Matlabas plaaswag lid Gustav Opperman het die spoorsnyers hul goed van hul taak gekwyt en teen 22:30 verskyn die eerste foto van ‘n verdagte spoor op die plaaswag se kommunikasiekanale. Verdere ondersoek het daarop gedui dat die verdagtes in twee groepe verdeel het.


Op grond van die rigting van die spore is die buitenste perimeter van die soektog aangepas. Plaaswaglede het binne ‘n paar meter van mekaar stelling ingeneem. Om te verhoed dat die verdagtes opgelaai kon word en sodoende ontsnap, het die groep seker gemaak hulle is heeltyd in verbinding met mekaar en ‘n opgeleide spoorsnyhond is ingespan.


‘n  Kledingstuk en ‘n knipmes is op die spoor gevind. Die soektog het voortgeduur tot 01:30 Vrydagoggend toe die eerste verdagte gearresteer is. 


Kort daarna is vier verdagtes in aanhouding. Die manne van Matlabas plaaswag, die HPG spoorsnyers en die polisie het teen 02:50 van die toneel onttrek.


Dit is met groot dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader dat hierdie manne met soveel opoffering, toewyding en bekwaamheid die landelike gebied in die Dwaalboom, Thabazimbi en Lephalale-distrik beveilig. 

Die spoorsnyers het hul goed van hul taak gekwyt en teen 22:30 verskyn die eerste foto van ‘n verdagte spoor op die plaaswag se kommunikasiekanale.

 

Share this article with a friend...